Jebel Ali Leeus, Vrydag 16 en 23 Mei 2008

Seëngroete in die Naam van Jesus Christus!

Op Vrydag 16 Mei 2008 het die Jebel Ali Leeus les 6 van Dare to be a Daniel gedoen. Die goeie nuus is dat ons die boeke van Amerika af ontvang het! Ons het die boeke vir die jeug uitgedeel en die materiaal kan nou optimaal aangewend word. Ek sal dus nie die lesse hier opsom nie behalwe om 'n beskrywing te gee van die uitdaging wat elke week aan die Leeus gestel word. Slegte nuus is daar nie! Prys die Here!

Die Leeus se opdrag was om hulself biddend tot beskikking van die Here te stel sodat Hy hulle kan lei om die Blye Boodskap van Jesus met ander mense te deel. Die opdrag was om hul ervaringe uit gebed en wat daarop gevolg het aan te teken. Selfs al het hulle nie met enigiemand gesels nie wil ek graag hê dat hulle met my en mekaar sal deel hoe hulle daaroor voel en wat hulle tydens gebed beleef het.

Op Vrydag 23 Mei 2008 het ek les 7 voorberei gehad maar ons kon nie die saal kry waar ons gewoonlik die les aanbied nie. Die Here werk op maniere wat ons nie verstaan nie! Ek was dus in die diens gewees en buiten vir die feit dat ek as diaken bevestig is het ek geweldig baat by die erediens gevind (soos gewoonlik).

Die Leeus se opdrag vir die twee weke is dus om te bid dat God hul sal gebruik om Sy getuies te wees. Hulle moet dan hul ervaringe neerskryf. As ek iets neergeskryf sien hetsy dit net 'n opgawe van gebede is, kry die Leeus 'n lekkerny!

Hierdie Vrydag, 30 Mei is dit Nagmaal en het die Leeus nie les nie maar ek wil nogsteeds hul terugvoer ontvang.

Groete in Christus Jesus,

Hannes

No comments: